HYPNOSIS CENTRE

Latest newspaper articles of interest:

SAL HIPNOSE JOU HELP OM OP TE HOU ROOK?

By David Engelbrecht 

Photo : David Engelbrecht, 2012-07-31 00:00

Marijke van Bosch saam met hipnoterapeut Elsie Britz.Foto: david engelbrecht

MALMESBURY 

 Na meer as 19 jaar van gewoond wees aan ’n sigaret in die hand, het die Gazette-groep se advertensiebestuurder vir die Swartland-, Drakenstein- en Breederivier-streek, Marijke van Bosch, glad nie meer ’n lus vir rook nie. 

 Hoe is dit moontlik, wonder ’n mens onwillekeurig. Marijke het nie die normale roete van plakkers of kougom gevolg nie. Sy was ’n proefkonyn in ’n alternatiewe manier van soek na ’n rookvrye leefstyl: hipnose. 

 Na Elsie Britz, ’n hipnoterapeut van Durbanville, ’n Business Link-vergadering op Malmesbury bygewoon het, het die nuuskierigheid hoog geloop oor hierdie vreemde vorm van terapie. Elsie sê sy spog met ’n suksessyfer van 96% om ’n roker binne een sessie te laat ophou rook. 

 Sy spesialiseer ook daarin om dwelmverslaafdes weer “skoon” te kry en haar spreekkamer spog met talle koerantuitknipsels van sukesverhale. Sy is ook vol vertroue dat, indien jy sukkel ná die eerste sessie, jy weer kan teruggaan vir ’n gratis konsultasie om die terapie te versterk. 

 Marijke vertel dat sy al sedert 1993 ’n roker is en dat dit begin het by die restaurant waar sy destyds gewerk het. “Ek was een aand verskriklik kwaad gewees oor iets en ek kan onthou hoe een van die kelners vir my ’n sigaret gegee het.” Sy erken dat sy nog nooit spyt was dat sy nie eerder “nee” gesê het vir die sigaret nie. 

 Voor die terapie het sy sowat R1100 ’n maand aan sigarette spandeer teen sowat R33 ’n pakkie. “Vandat my dogtertjie, Mieke, gebore is, rook ek net by die werk. Dit is selde dat ek by die huis sal rook. Ek hou nie eers tred van hoeveel sigarette ek by die werk rook nie, maar ek weet ek rook baie.” 

 Voor die hipnose was Marijke oortuig dat die terapie kan werk. “Ek hoop regtig dit werk uit, want hierdie vrou het oor my pad gekom en hierdie sameloop van omstandighede kan dalk net die antwoord wees.” 

 Elsie verduidelik dat baie mense ’n geweldige groot wanopvatting oor hipnose het. “Baie mense sal hier aankom en sommer vir ons sê: ‘Sit my diep weg! Ek wil van niks weet nie!’ Dit is nie so nie. Hipnose is eintlik maar net ’n ontspanningsfase waarin jou liggaam en jou brein beweeg.” 

 Elsie se man, Chris, wat ook bekend is vir sy vertonings waar hy hipnose vir pret gebruik, vertel dat daar nie so iets is soos hipnose waar jy niks kan onthou nie. “Daar bestaan glad nie so iets nie. Jy is gedurende die hele sessie bewus van wat om jou aangaan.” 

 Marijke beskryf haar sessie met Elsie as ’n vreemde, dog interessante ervaring.

 “Eers het sy my gemaklik op die bank gemaak en met my gesels. Daarna het sy musiek aangesit en haar stem het in ’n baie laer en diep toon verander. “

Later het dit half begin saamsmelt met die musiek, sodat dit half klink sy sing saam met die musiek. Daarna het sy die voorstelle in my onderbewussyn begin plant. 

 “Dit was alles voorstelle soos hoe sleg rook vir ’n mens is, asook hoe gevaarlik dit is, die gesondheidsrisiko’s soos emfiseem. Snaaks genoeg, toe sy emfiseem noem, toe het ek half die emfiseem gesien en vreeslik naar geraak.” 

 Na haar sessie was Marijke baie ontspanne en het sy selfs gespot oor hoe vaak sy is.

 Elsie verduidelik dat die kruks van hipnose in die stem is en dat hulle daarheen werk om die pasiënt ontspanne te kry en in die stadium tussen wakker en net aan die slaap. Dan begin hulle werk met die onderbewussyn. “Ek probeer om mense in staat te stel om in beheer te wees sonder ’n sigaret. Dit moet vir hulle, na die terapie, ’n motivering wees om nie te rook nie.” 

 Terug op kantoor, het die meeste kollegas skepties gelyk oor Marijke se nuwe aanslag oor rook. Tot dusver het sy nie ’n sigaret opgesteek nie en sy vertel dat sy nie eers eintlik meer daaraan dink nie. Sy is van plan om nou die geld wat sy nie meer op sigarette gaan uitgee nie, te spaar vir haar dogter se toekoms.

 En sy beveel enigeen aan om hierdie alternatiewe opsie te oorweeg. “Dit mag dalk nie vir almal werk nie, maar as dit vir ’n hele paar ander, soos vir myself kan werk, dan het hulle tog iets beet.”